Miggie en die Ysterperdman

R139.00

Skrywer:  Sara Francis

Miggie is onder die “Waterdraer Sterreteken” gebore en haar vriendelike en behulpsame, dog halsstarrige geaardheid pas so reg in die kraal van `n tipiese mensgeoriënteerde Waterdraer.

Nadat Bertie, die groot liefde van haar lewe, haar gelos het vir `n ander meisie het Miggie geswèèr sy sal nòòit weer `n man in haar lewe toelaat nie; veral nie in haar hart.  Sy is heeltemal tevrede om eerder `n gelukkige oujongnooi te word.  Sy hèt mos haar kat, Skatlik, vir geselskap!

Maar dan kom trek die aantreklike, nuwe buurman met sy steekhaarbrak en sy ysterperd in en van dag een af is die hêrrie behoorlik los tussen hulle twee.  Selfs die kat en hond is gedurig aanmekaar en daar is net mooi geen vrede meer nie.

Om dinge nog meer gekompliseerd te maak, hoor sy weer uit die bloute van Bertie en wil hy haar na al die maande terug hê.  Intussen begin haar hart om een of ander rede wild klop as sy net die ysterperdman gewaar.  Die arme Miggie weet nie links of regs nie en gaan maar kort-kort by die “Waterdraer” om hulp en leiding aanklop.  Was hy dan nie reg destyds toe hy haar gewaarsku het oor “die lelike slang in die gras nie” en sy nie geluister het nie?  Nou staan daar weer `n wolf in skaapsklere voor haar deur!

Sal sy uiteindelik uitvind wiè die regte wolf is en sal Venus, die planet van liefde, haar genadig wees en weer liefde en romanse in haar lewe bring?

Sara Francis is van die diamantstad Kimberley in die Noord-Kaap en het in die klein dorpie, Douglas, grootgeword en skool gegaan.  Sy het twee seuns en `n dogter en is ook die trotse ouma van vier pragtige kleinkinders.  Sy was voorheen betrokke by haar man se onderneming, maar nou `n voltydse skrywer.  Sy is lief vir die buitelewe, doen naaldwerk en skilder ook graag, maar skryf was nog altyd haar grootste passie.  Miggie is die eerste van baie boeke wat nog gaan volg.  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Authors on the move...
css.php